Home         Paintings            Woordprente          Enquiries          Prints          Greeting Cards          IN-NIE KOELTE


Louw Pretorius

Woordprente

'n ODE AAN:

Karoo-Hartland

'n Flentertjie genade was my toebedeel. Buite die maatstok van tyd het Ma Karoo my nog 'n keer in haar opgeneem tot waar my siel knuppeldik kon soog.

 Hulle sê: “Winter in die Karoo? Jy moet jou kop laat lees, ou maat!”

 Hulle sê: “Daai vaal, bleekgrys bleikveld; dofoker grond tussen viesbruin rante; veraf floublou berge met lappe vuilgeel gras wat hier-'n-daar soos verwaaide wasgoed in 'n yswind flapper? Nee dankie!”

 Dis jóú Karoo. Myne is anders. Die Karoo-Hartland – dis mý Ma! En meer, dis hoe sy geken wil wees – vol deernis en waardering.

 As jy haar giere en maniere wil ken, moet jy aan die suidwestelike hange van die Drakensberge begin – Barkly-Oos/Aliwal-omgewing waar bakkranse asof met voortydse opskeplepels uit die sandsteen gehap is en die verste senupunte van die Gariep elke druppel vry water uit duisende klofies lok. Noord lê haar some by Middelburg. Wes by Willowmore. Suid is Uitenhage die verste baken en Oos groet sy die son by Patersón (op Afrikaanse gelees). Dís haar getekende kaart wat mens by elke i-toonbank in dié gebied optel.

 Maar haar hart se kaart lyk heel anders. Hoeka by g'n twee mense dieselfde nie. Nooit-ooit dieselfde nie. Net die sielsoog kan haar skynbeeld peil. Maar stroop van alle maskers tot op die naakte vel is dikwels nodig voor sy soos fyn skalpel kerfies van 'n ysreën haarself as 't ware aanmeld. Só leer mens haar ken; in oorvloed en ellende, altyd Ma. En jy weet ook - háár stof en die stof van jou eie lyf se voorland is dieselfde stof!

 Die Karoo-Hartland is 'n stukkie aarde met getemperde seisoene. Elk in eie volheid daar. Elkeen op sy tyd; amper soos 'n noodwendige eenrigtingkommunikasie waarvan die dialek altyd óf die een óf die ander is - maer jare óf vet jare.

Jy praat ook nie teë nie. Gooi net skille af. Kyk, luister en stel jou kompas in vir vorentoe. Praat jy teë, skiet die somer se middagson dooierus die hel uit jou uit. Die winter se ryp en yswinde klief soos pylpunte deur jou ribbes. Die najaar se warm weswind pak modderwalle om jou oë en in jou neus. Soms versluier grys op grys buie ysreën jou gemoed en dryf jou depressie toe tot jy soos 'n bedremmelde donkie met hangore en gat-teen-die-wind in 'n kapokstorm verstyf.

 Jy laat hierdie Ma jou op háár manier haar karos omhang. Sy doen dit graag vroegmôre of laatmiddag. Dan toon sy haar fynste kleuredos. Lig en skadu dans oor vlakte, rant en kloof en grassade wuif die ritme van die bries.

 En as jy baie soet was, sal sy perdalks – net vir die speelsheid – 'n vlagie misreën stuur sodat berge sommer wolke word en jy goedgunstiglik kan deel aan 'n unieke skeppingsritueel van blertse goue sonlig kwistig oral uitgestort. En sommer dalk ook weer jou eie reënboog om alles te bevestig.

 Kortom: Haar wese lê versluier diep in die siel van mense; die draers van 'n groot deel van Ma-Karoo in hul aard en are vasgevang. Die aangepastes hier is op sigwaarde en van hart eerlik, sekuur reguit en opreg. Meer gehard as hard, maar gul en méns tot in die volste maat. Mense wat weet dat maskers hier nie aard.

 Karoo-Hartland doen altoos iets aan 'n mens. Dit beloon met 'n belewenis wat nooit in terme van tyd of stand gemeet mog word nie. Net die effek is jou soms beskore wanneer jou moermeter minder dikwels die rooi in neig.  Maar êrens in die rakke van die ooptes skuil daar tog altyd 'n krummel insig en begrip van die uitnemendste, die liefde - en die Woord in Wie immers al's geborge is – ook my Hartland-Karoo!

(2002 – aangepas 2008)

Woorde

'n resep vir woordprente het twee ‘pigmente’:
rym tel veertig, ritme - sestig.

hoor-en-weet soos kyk-en-sien is 'n tweespoorpad
na  nuwe ooptes waar die hart se enkelvoetpad

na wyer vloedvlaktes van gedagtes sprei
op soek na 'n eie nis vir wortelskiet
en mettertyd bevryding kry -

in die vlerkslag van ʼn egte Liefdeslied!

 


Sonblom

vroegmôrelig bring ʼn roering mee
met sterre se knikgroet om by herhaal
ʼn vars dag van dink, voel én wil te smee
tot die aandwindjie musiek uit blare haal -
soos in die skepping se eerste tuin
waar Maker en maaksel
mekaar in blaretaal
ervaar.

ligdag
se lewenskrag
bedruip elk ry op ry
van die son se blomme
op vlakte en heuwelkruine
waar onder uit die skyndood
van okers- vaal- en purper aarde
stuwingskragte skeppend lewe wek
tot ʼn iedere blomblaarkrans baldadig
in kressendo’s van oggendwinde jubel –
ʼn lofbetuig vir verseëlde son- en aardkrag
wat vrug en saad met lewenskrag bemag!

en kosmos refrein: “Jíppíé..!”

skerp my geesoor
vir die voetval in my tuin
van stralekranse in die ruim -
soos ʼn skeppingslied in jubelkoor
en laat in my viering van lig en leef
één mosterdsaadjie liefd’ verweef
in hierdie ondermaanse tuishuis
onder die vier-ster-kruis!

ʼn nuwe vars
sonblom!

Volg asseblief "Sonblom" na skildery

 

Home         Paintings            Woordprente          Enquiries          Prints          Greeting Cards

louw@louw.co.za

Address:  P.O. Box 765 : SILVERTON – 0127 : PRETORIA : Rep. of South Africa
Mobile: +27 (0)82 853 6735

Design & Production by AD-land